ROCHELLE ROOS

Na ‘n paar jaar se stilte is plaaslike sanger Rochelle Roos weer vuur en vlam om haar musiekloopbaan verder te voer.
April 28, 2018

KOMATIPOORT – Rochelle het onlangs by die Marlothi-paasmark opgetree en aanhangers sal haar hierdie jaar nog ‘n hele paar keer op die verhoog sien.

Dié boorling van Komatipoort het in 2014 haar vyfsnitalbum, Déjà vu vrygestel, nadat Heinz Winckler haar potensiaal tydens ‘n werkswinkel vir aspirantsangers raakgesien het.

Rochelle sê sang was al wat sy wou doen na skool en het die werkswinkel bygewoon om meer te leer oor die musiekbedryf en wat ‘n loopbaan daarin behels.

Die vrystelling van haar eie album was ‘n groot voorreg en droom wat waar geword het. “Dit was ongelooflik om jou eie liedjies te hoor, te besef jy was deel van die skryf daarvan en dat dit ‘n stukkie van jou is wat daar speel. Ek het ‘n gedig vir my man geskryf en dit was wonderlik om te hoor hoe dit as ‘n liedjie vorm kry,” vertel sy.

Rochelle het die laaste paar jaar net ‘n paar keer by feeste opgetree omdat sy getrou het en meer tyd aan haar nuwe gesin wou gee.

Rochelle vertel dat sommige aanhangers by feeste haar vertel het dat hulle steeds haar CD luister, terwyl ander vir ‘n nuwe een gevra het.

“Die musiek begin nou optel en ek hoop om weer by verskeie feeste op te tree. Ek wil graag elke naweek optree en daardie één song skryf en vrystel wat iets vir iemand daarbuite beteken,” het Rochelle oor haar doelwitte vir die jaar uitgewei.

Sy is tans kandidaatprokureur by Esselens Engelbrechts Ing. en sê behalwe haar familie, het sy ook ‘n baie goeie baas en kollegas wat haar musiekloopbaan baie ondersteun.

“My familie en skoonfamilie is wonderlik. Daar is nie ‘n optrede sonder dat ‘n familielid dit bywoon nie en hierdie ondersteuning gee ‘n mens daardie ekstra hupstoot.”

Rochelle vertel dat die musiekbedryf taai is en dat sy skaars ‘n voet daarin gesit het. Sy glo dat met harde werk, uithouvermoë, geloof, vertroue, hoop en ‘n sterk wil enigiets moontlik is. Sy raai ander aspirantsangers aan om nooit op te gee nie.

“Moet nooit dat een mens se opinie jou definieer nie. God het vir jou ‘n talent gegee en dit is geen mens se reg om dit van jou weg te neem nie.”

Rochelle is ‘n vrou van vele talente en hou ook van bemarking, ontwerp en funksies reël. Sy is op die komitee van die Komatipoort-garnaalfees, betrokke by die Malelane Sakekamer en is besig met haar LLB-graad deur Unisa.

Wanneer sy nie werk, sing of leer nie, spandeer sy tyd saam met haar familie of maak sy meubels, muurkuns en ander produkte uit hout.

Rochelle is tans besig met onderhandelings met ‘n agentskap wat haar gaan help met haar loopbaan en hoop om vanjaar ‘n nuwe liedjie en musiekvideo vry te stel.

Aanhangers sal binnekort meer oor haar optredes en musiek op haar Facebook-blad kan sien.