Return to OUR FEMALE ARTIST

VASTI

VASTI

Van jongs af het Vasti ‘n droom gehad om te sing en in 2012 het sy gestalte begin gee daaraan deur op te tree by liefdadigheidsfunksies, feeste, korporatiewe funksies, gemeenskapsprojekte, troues en privaat funksies. Haar talent is gou raakgesien en in 2014 word sy genooi om by die KKNK op te tree waar sy sedertdien ‘n paar keer op die RSG verhoog te sien was, asook kuierverhoë by Innibos Nasionale Kunstefees. Sy tree ook op as voorprogram vir van ons land se bekendste kunstenaars (Steve Hofmeyr (x3), Jak de Priester, Bok van Blerk, Manie Jackson, Bobby van Jaarsveld, Ray Dylan, David Fourie, Fredi Nest, Neil Somers, Tertius Van Tonder & Thys die Bosveldklong) en deel ook die verhoog met Corlea Botha, Jannie Moolman, Romanz, Nianell, Andre Schwartz & die groep Anders tydens hul optredes in die Laeveld.  In 2017 verhuis sy vanaf Nelspruit na Gauteng om haar sangloopbaan daar voort te sit.

In 2013 het Vasti kragte saamgesnoer met Jan Blohm en haar eerste trefferlied:  “Soet September” is gebore. Danksy aanvraag deur die publiek, is haar debuut album,  “Staan Sterker” in 2015 opgeneem onder die bekwame leiding van Douw Steyn van SON Recordings. “Staan Sterker” is dan ook die titel van haar tweede eie oorspronklike lied, waarvan die musiek geskryf is deur Joshua Oosthuizen van SON Recordings en lirieke deur Vasti in samewerking met Henry Alant. Die musiek video vir “Staan Sterker” is ook vrygestel en te siene op haar Facebook en YouTube kanaal met die hulp van die videografie maatskappy “DesignFlow”. Hierdie twee liedjies kan tans gehoor word op Radio Laeveld, Radio Kosmos, All time Radio & Hosa Radio (waar Staan Sterker 6 weke in ‘n ry in die TOP 15 was).

 

Vasti het ‘n klokhelder, suiwer stem en sing ligte musiek, country musiek,  ballades, asook die meer klassieke na gelang van die geleentheid.  Organiseerders van die geleenthede waar sy optree,  beskryf haar as professioneel,  vriendelik, altyd goed voorbereid en betyds. Haar optredes is gewild onder jonk en oud en met haar warm en toeganklike persoonlikheid en opregte liefde vir mense wen sy harte op en van die verhoog af.